|
"rekening", met betrekking tot 'n kurator, beteken na gelang van die geval 'n likwidasierekening of 'n distribusierekening of 'n kontribusierekening of 'n aanvullende likwidasierekening of distribusierekening of kontribusierekening;
"bankinstelling" beteken 'n bankinstelling soos omskryf in artikel 1 van die Bankwet, 1965 (Wet 23 van 1965), en geregistreer of voorlopig geregistreer of geag geregistreer te wees as 'n bankinstelling ingevolge artikel 4 van daardie Wet, maar nie ook 'n voorlopig geregistreerde bankinstelling wat na die inwerkingtreding van die Insolvensiewysigingswet, 1972, aldus voorlopig geregistreer is nie; [Omskrywing van "bankinstelling" ingevoeg by a. 1 van Wet 6 van 1972.]
"bouvereniging" beteken 'n bouvereniging soos omskryf in artikel 1 van die Bouverenigingswet, 1965 (Wet 24 van 1965), en finaal geregistreer of geag finaal geregistreer te wees as 'n bouvereniging ingevolge artikel 5 van daardie Wet; [Omskrywing van "bouvereniging" ingevoeg by a. 1 van Wet 6 van 1972.]
"hof" of "die hof", met betrekking tot een of ander aangeleentheid, beteken die provinsiale of plaaslike afdeling van die hooggeregshof wat kragtens artikel honderd- negen-en-veertig of honderd-een-en-vyftig in daardie aangeleentheid bevoeg is, of 'n regter van daardie afdeling; en met betrekking tot 'n misdryf volgens hierdie Wet of in artikel agt, ses-en-twintig, negen-en-twintig, dertig, een-en-dertig, twee-en-dertig, paragraaf (a) van subartikel (3) van artikel vier-en-dertig, twee-en-sewentig, drie-en- sewentig, vyf-en-sewentig, ses-en-sewentig, agt-en-sewentig, of honderd-sewen-en- veertig omvat die uitdrukking "hof" of "die hof" 'n magistraatshof wat ten opsigte van die betrokke misdryf of aangeleentheid bevoeg is;
"skuldenaar", in verband met die sekwestrasie van 'n skuldenaar se boedel, beteken 'n persoon of vennootskap of die boedel van 'n persoon of vennootskap wat 'n skuldenaar volgens die gewone betekenis van die woord is, met uitsondering van 'n regspersoon, maatskappy of ander vereniging van persone wat kragtens die wet op maatskappye gelikwideer kan word;
"vervreemding" of "vervreem" beteken 'n oordrag of afstand van regte op goed en omvat 'n verkoop, huur, verband, pand, lewering, betaling, kwytskelding, skikking, skenking of 'n kontrak in die sin, maar omvat nie 'n vervreemding tot voldoening aan 'n order van die hof nie;
"vrye oorskot", met betrekking tot 'n insolvente boedel, beteken daardie deel van die boedel wat nie aan 'n preferente reg onderhewig is nie op grond van 'n spesiale verband, stilswygende hipoteek, pand of retensiereg; [Omskrywing van "vrye oorskot" gewysig by a. 2 (a) van Wet 16 van 1943.] "Staatskoerant" ...... [Omskrywing van "Staatskoerant" ingevoeg by a. 2 (b) van Wet 16 van 1943 en geskrap by a. 1 van Wet 49 van 1996.]
"te goeder trou", met betrekking tot die vervreemding van goed, beteken sonder bedoeling om skuldeisers by die verkryging van betaling van hulle vorderings te kort te doen of om een skuldeiser bo 'n ander voor te trek; "onroerende goed" beteken grond en elke reg op grond of minerale wat geregistreer kan word in 'n kantoor in die Republiek wat bestem is vir die registrasie van grondtitels of die reg om te myn;
"insolvent", indien as 'n selfstandige naamwoord gebesig, beteken 'n skuldenaar wie se boedel onder sekwestrasie is en omvat, na gelang van die samehang, ook so 'n skuldenaar voor die sekwestrasie van sy boedel;
"insolvente boedel" beteken 'n boedel wat onder sekwestrasie is;
"magistraat" omvat 'n addisionele magistraat en 'n assistent-magistraat;
"Meester", met betrekking tot een of ander aangeleentheid, beteken die Meester van die Hooggeregshof binne wie se ampsgebied daardie aangeleentheid behandel moet word en omvat 'n Assistent-Meester;
"geregsbode" beteken 'n geregsbode van 'n magistraatshof en omvat 'n onder- geregsbode; "Minister" beteken die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is; [Omskrywing van "Minister" ingevoeg by a. 1 van Wet 16 van 2003.]
"roerende goed" beteken elke soort goed en elke reg wat nie onroerende goed is nie;
"preferensie", met betrekking tot 'n vordering teen 'n insolvente boedel, beteken die reg op betaling van daardie vordering uit die bate van die boedel met voorkeur bo ander vorderings, en "preferent" het 'n daarmee ooreenstemmende betekenis; "goed" beteken roerende goed of onroerende goed, waar ook al in die Republiek geleë en omvat voorwaardelike regte op goed met uitsondering van die voorwaardelike regte van 'n fidei kommissaire erfgenaam of legataris;
"Republiek" ...... [Omskrywing van "Republiek", voorheen omskrywing van "Unie", bygevoeg by a. 2 (d) van Wet 16 van 1943 en geskrap by a. 1 van Wet 49 van 1996.]
"sekuriteit", met betrekking tot die vordering van 'n skuldeiser van 'n insolvente boedel, beteken goed van daardie boedel waarop die skuldeiser 'n preferente reg het kragtens 'n spesiale verband, stilswygende hipoteek van 'n verhuurder, pand of retensiereg;
"sekwestrasieorder" beteken 'n order van die hof waardeur 'n boedel gesekwestreer word en omvat 'n voorlopige order wat nie vernietig is nie; "balju" omvat 'n onderbalju;
"spesiale verband" beteken 'n verband wat enige onroerende goed verhipotekeer of 'n notariële verband wat roerende goed spesiaal daarin beskryf, verhipotekeer ingevolge artikel 1 van die Wet op Sekerheidstelling deur Middel van Roerende Goed, 1993 (Wet 57 van 1993), of so 'n notariële verband geregistreer voor 7 Mei 1993 ingevolge artikel 1 van die Wet op Notariële Verbande (Natal), 1932 (Wet 18 van 1932), maar sluit nie in enige ander verband wat roerende goed verhipotekeer nie; [Omskrywing van "spesiale verband" ingevoeg by a. 2 (c) van Wet 16 van 1943 en vervang by a. 4 van Wet 57 van 1993 en by a. 1 (1) van Wet 157 van 1993.]
"Hooggeregshof", "Afdeling van die Hooggeregshof" en "Provinsiale of Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof" ...... [Omskrywing van "Hooggeregshof" ingevoeg by a. 2 (c) van Wet 16 van 1943 en geskrap by a. 1 van Wet 49 van 1996.]
"die Gebied" ...... [Omskrywing van "die Gebied" ingevoeg by a. 2 (c) van Wet 16 van 1943 en geskrap by a. 1 van Wet 49 van 1996.]
"handelaar" beteken iemand wat 'n handel, besigheid, bedryf of onderneming dryf waarin goed verkoop word of gekoop, ingeruil of vervaardig word om verkoop of verruil te word of waarin bouwerk van watter aard ook al verrig word of wat openbare vermaaklikheid of onthaal beoog, of wat die besigheid van 'n hotelhouer of losieshuishouer dryf, of wat as makelaar of agent van 'n ander optree by die verkoop of koop van enige goed of by die huur of verhuur van onroerende goed; en elkeen word by die toepassing van hierdie Wet (behalwe by die toepassing van subartikel (10) van artikel een-en-twintig) as 'n handelaar beskou tensy bewys word dat hy nie 'n handelaar is soas in die voorgaande omskrywe nie: Met dien verstande dat indien iemand die handel, besigheid, bedryf of onderneming dryf om goed te verkoop wat hy deur middel van boerdery geproduseer het (hetsy persoonlik of deur 'n diensbode), die bepalings van hierdie Wet wat alleen op handelaars betrekking het, nie op hom in verband met sy genoemde handel, besigheid, bedryf of onderneming van toepassing is nie;
"kurator" beteken die kurator van 'n boedel wat onder sekwestrasie gesit is en omvat 'n voorlopige kurator;
|